Graham Hopkins


A new play, Interiors, by Amy Jephta is on at the The Intimate Theatre ...
Die Krismis van Map Jacobs. By Adam Small. Directed by David K...
Krismis van Map Jacobs. Kunstekaap-teater. Deborah Steinmair

PAGE 1/89
Augusta betower

Travels with My Aunt. Theatre on the Bay, Kampsbaai. Mariana Malan vir Die Burger. Tot Augustus 29.

Geseënd is jy as jou naam Augusta is. Dit blyk sinoniem met formidabele vroue te wees.

Graham Hopkins kry in hierdie stuk die kans om die tante met die naam te vertolk. Dit gebeur sonder pruik, tabberds of grimering.
Hy gebruik sy hande, pas sy treetjies aan en verander sy stemtoon. En siedaar! Augusta staan voor jou ten spyte van ’n strepiespak en ’n sydas.

Ook die ander drie in die rolverdeling (Theo Landey, Robert Fridjohn en Malan le Roux) bly netjies in hul kispakke gewikkel terwyl hulle van die een na die ander karakter verwissel.

Henry Pulling (Augusta se neef) kry die kans om deur elkeen van hulle te praat en elkeen bring iets anders in die karakter na vore.
Regisseur Alan Swerdlow het nou al ’n reputasie opgebou met die manier waarop klassieke verhale op die planke gebring word.

Wanneer die akteurs absoluut seker is van hul woorde en totaal tuis is op die verhoog, hoef Travels with my Aunt nie ’n tree terug te staan vir The 39 Steps en Around the world in 80 Days nie.

Genoemde twee was dalk interessanter weens die gebruik van die minimum op die verhoog om die maksimum te insinueer, maar hierdie verhaal van Graham Greene kielie eenvoudig net ’n mens se eie sin vir avontuur.

Dink net hoe heerlik moet dit wees om naby jou aftrede skielik die kans kry om oor drie vastelande rond te rits, die Turkse polisie, Suid-Amerikaanse dwelmbase en die CIA op jou spoor te kry.

Daarby word ’n mens betower deur Augusta se ryk geskakeerde verlede en die manier waarop sy kry wat sy wil hê en boonop die talent na ’n volgende geslag oordra.

Giles Havergal se verwerking vir die verhoog is die eerste keer in 1989 in Skotland opgevoer. Daar was ook ’n rolprentweergawe met Maggie Smith in die hoofrol.

Hierdie produksie laat jou nie smag na die silwerdoek of meer karakters nie. Dis amper asof die storie vir jou gelees word met oorgenoeg kleur, maar ook sodat jy nog die geleentheid kry om nog jou eie verbeelding te kan gebruik.

Die reis het pas begin. Dis dan seker nog nie te laat om bon voyage te sê nie.