Adrian Collins


Woyzeck. Director: Lara Foot. CAST: Thami Mbongo, Chuma Sopotela, Zolek...
The Lahnee’s Pleasure. Kunstekaap-Arena
...
Mamma Mia! – steeds gepak met Abba-treffers – is tans vir d...
PAGE 1/100
Onweerstaanbare vermaak

Cosi. Met Die Mechanicals. By Die Little Teater tot July 31. Deur Deborah Steinmair vir Die Burger

’n Hiper-aktiewe maatskaplike werker besluit dat teater nét die terapie is vir ’n klompie inwoners van ’n gestig. ’n Regisseurtjie vars uit die universiteit word opgesaal om die plofbare en verflenterde bende te dirigeer. Hy word gou oordonder deur een van die pasiënte, die dramatiese, tragiese Roy, met sy droom om Cosi fan tutte op te voer omdat Mozart s’n die ‘musiek van die sfere’ is en sy weelderige kinderjare oproep.

Die feit dat die inwoners nóg kan sing, nóg Italiaans magtig is (sommige is min of meer katatonies en het lanklaas ’n volsin gebesig) is skynbaar bysaak. Guy de Lancey skitter in die sleutelrol van Roy: hy oortuig, begogel en verval nooit in slapstick nie.

Die repetisies in ’n uitgebrande teater wemel van skreeusnaakse oomblikke. Soms wonder ’n mens, onder die skaterlag, of dit heeltemal ‘korrek’ is, die malhuishumor, maar jy kom gou tot die slotsom dat ons maar almal ‘af’ is – die regisseurtjie werp hom toenemend in sy taak (hy word ook akteur wanneer een van die spelers ’n insinking beleef en oorgeplaas word na die spesiale saal) en raak mettertyd self jolig die kluts kwyt.

In Mephisto het die Mechanicals ons rou senuwees bloots gery. Hier vermaak hulle en geniet hulself gate uit, met dieselfde maniese oorgawe. Die stuk is ‘n gehoorstreler met sy vars humor, teatrale oordaad en operamusiek, maar dit stel ook subtiele vrae wat agterna bly knaag.

Agter die begeesterde konsertspel van die onwel akteurs ontvou nuwe intriges, ’n storie binne ’n storie wat die temas van Cosi fan tutte eggo, soos die turksvy van liefde en meer spesifiek liefdestrou. Die regisseur se meisie verneuk hom met sy vriend en hy kafoefel in die coulisse met een van die pasiënte, die lakoniese junkie Julie (Tinarie Van Wyk Loots).

Soos in Hamlet, waar ’n drama ingespan word om agter die kap van ’n paar byltjies te kom, laat die opvoering die geesteskrankes uit hul dop kruip en is daar wonderlike, terloopse karakterontwikkeling. Adrian Collins se Henry en Luke Ellenbogen se Zac verdien melding. ’n Koekoek vlieg oor die Kleinteater ­-- Cosi, geregisseer deur Scott Sparrow, is onweerstaanbare vermaak en tref diep.

 

By die Little Theatre tot 31 Julie