Adrian Collins


Woyzeck. Director: Lara Foot. CAST: Thami Mbongo, Chuma Sopotela, Zolek...
The Lahnee’s Pleasure. Kunstekaap-Arena
...
Mamma Mia! – steeds gepak met Abba-treffers – is tans vir d...
PAGE 1/100
The Mechanicals gaan mal

COSI deur Louis Nowra met Andrew Laubscher, Guy de Lancey, Wilhelm van der Walt, Deborah Vierya, Luke Ellenbogen en ander.Regie: Scott Sparrow The Mechanicals in die Kleinteater, Hiddingh-kampus, Oranjestraat, Kaapstad. Tot 31 Julie.  Deur Danie Botha

Dis ‘n oproerige gedoente wanneer Australiese geestelik versteurdes Mozart se hemelse Cosi fan tutte as toneelstuk instudeer in die tyd van die oorlog in Viëtnam.

Die groot Kaapse gehoor het op openingsaand geesdriftig meegedoen. Gee applous met elke toneelwisseling. Baie het studenterig gelyk; een het hom wel as ‘n matroos voorgedoen. Van hulle het kort-kort as juigkommando van die oudstudente op die verhoog luidkeels geraak. Dit was dikwels van die gedetermineerde soort gelag: mag, kan, wil, sal lag.

Die jonge Lewis (Andrew Laubscher) aanvaar die uitdaging om ‘n stuk met die groep vreemde spelers aan te pak. Hy het bitterweinig ondervinding. Heerlik om te sien hoe Laubscher sy toename in selfvertroue uitbeeld. Hy het ‘n eie onvolkome liefdeslewe met Lucy (Roxanne Blaise; weer so ernstig gespeel soos in die geselskap se Mephisto). Nick (Louis Viljoen is ‘n teenwoordigheid as dié macho ou) is sy mededinger en vriend. Gaandeweg word sy opvattings oor vroue en oor die oorlog getoets wanneer hy die sielsiekes beter leer ken, dinge as ‘t ware nuut deur hulle oë sien. Dit bring hom in botsing met Nick en Lucy. Sy danspassies as bevryde man het by baie baie byval gevind.

Dit is die bepruikte manies-depressiewe Roy (Guy de Lancey) met sy drome en passie vir die teater wat Lewis se grootste kritikus is. ‘n Mens kan jou verlustig aan sy spitsvondige, sarkastiese, ironiese  of manipulerende opmerkings oor Lewis se aanvanklike hopeloosheid as regisseur. De Lancey gee dit met uitstekende tydsberekening en onderbeklemtoning weer. Met die snaaksste inmengery kry Roy dit reg dat hulle juis die Mozart-opera oor ontroue minnaars aanpak. Die ontrouheidstema sluit aan by die erotiese probleme van verskeie van die karakters.

Omdat nie een kan sing nie, word alles net gepraat, tot groot, groot ontsteltenis van die bedwelmde Zac (Luke Ellenbogen) wat verwag het dat hy hulle op die klavier sal kan begelei. Hy maak die een na die ander plan om tog betrokke te wees. Hy aanbid Wagner eerder as die liefiese Mozart. Ellenbogen is van die spelers wat te alle tye hoor- en verstaanbaar is. Wellustelinge moet ook weet dat Ellenbogen naak raak. Is dit sy eerste kaalbasoptrede? Weet ook dat hy toehou vir ‘n vale waar hy kan.

Kate Liquorish is die maatskaplike werkster Justine wat Lewis by die pasiënte toelaat. Liquorish laat jou glo dat dié “sterk persoonlikheid” gerus ook behandeling moet kry. 

Adrian Collins is Henry wat aanvanklik nie wil praat nie, juis hy wat ‘n regsgeleerde is. Vra maar vir Roy hoekom Henry so ‘n mislukkeling is. Met hom kry Lewis een van sy beter ingewings en in die uiteindelike opvoering gee hy een van die sterkste vertolkings. Iets onthoubaar is die oomblikke wanneer Collins ‘n tikkie onsekerheid by Henry weergee reg daar  in sy triomf. Collins is moontlik goed fiks om al die hardlopery deur die ouditorium te hanteer.

Deborah Vierya geniet seker haar speelkans as Cherry. Sy is energiek en ekstaties. Sy is iemand wat kompulsief lieg en dan sketterlag as sy die manne laat verstaan sy trek net hulle bene. Sy hou van geweldsvoorwerpe. Maar… maar… kon regisseur Scott Sparrow nie tog na die voortdurende hoë-noot-geskree geluister het en aan ons gedink het wat dié woorde vir die eerste keer moet hoor nie? My twee gaste kon ook nie woord verstaan wat sy met stemverwringing uitroep nie.

Tinarie van Wyk Loots (Julie) en Emily Child (Ruth) vorm ‘n kontras as kalmer karakters. Tinarie as dwelmverslaafde is aan die normale kant en Lewis kan goed met haar kommunikeer. Baie goed, soos in diep soene. Soos met die Roy-karakter herken jy by Child s’n wel sielkundige afwykings, maar terselfdertyd ook die soort optrede van ‘n sekere teatertipe: alles moet uitgeredeneer en gemotiveer wees; sy het ‘n probleem met illusies. Loots en Child tree oortuigend op, behalwe stemgewys. Hulle projekteer nie genoeg in so ‘n groot teaterruimte nie.

Die speler wat my werklik die meeste beïndruk het, is Wilhelm van der Walt as Doug die piromaan. So ’n sterk manlike stemklank. Soveel wisseling in die sinsritmes. Duidelike artikulasie en stemprojeksie. Hy verras jou met sy beklemtonings. Met sy hele lyf raak hy fisiek en viriel. Jy kan glo dat hy Lewis se seksualiteit sal bevraagteken. Sy deurleefde vertelling van die brandende katte bly jou by. Hoe skerp en direk is hy nie in alles wat hy sê of doen nie!

Soos Mephisto het dit weer die teaterlewe as gegewe, maar dit het hoegenaamd nie dieselfde sterk intellektuele inslag nie. Dit het tog wel ‘n bietjie meer diepgang as die vergelykbare komedies oor die verhooglewe soos Noises off  of die Nunsense-reeks. Dit is die werk van ‘n dramaturg wat sedert 1972 al 25 toneelstukke geskryf het naas verskeie draaiboeke, romans en outobiografiese werk.

Iets aan die struktuur van die drama het my opgeval. Kort-kort word die repetisies onderbreek en gedurende daardie pouses kan jy maar weet: ons leer een van die karakters beter ken deur ‘n gesprek met Lewis. Dit raak net  te programmaties, hoewel ‘n mens tog ook dankbaar is vir hierdie kalmer oomblikke tussen al die dolheid.

Die tegniese versorging van die produksie is tussen die geselskapslede verdeel; sommige speel ook boonop. Vir jou ruik die teater inderdaad na stof, as en mufheid. Jy’s saam bly as die liewe mense hulle wit klere kan verruil vir kleurryke aanddrag of verhoogkostuums. Daniel Galloway laat jou glo die beligtingsapparaat is temperamenteel. Illusies wat Ruth glad nie sal kan hanteer nie.

Op openingsaand was daar ‘n ovasie. Wel, nie almal het meegedoen