MEPHISTO deur Ariane Mnouchkine. Vertaal deur Timberlake Wertenbaker. Gebaseer op die roman van Klaus Mann Met Adrian Collins, Julia Anastasopoulos, Andrew Laubscher, Emily Child, Tinarie van Wyk Loots, Guy de Lancey, Nicholas Ellenbogen en ander. Regie: Christopher Weare ‘n Produksie van die Mechanicals in die Arena, Hiddingh-kampus, Oranjestraat. 7 tot 24 Julie. Deur Danie Botha
Duitsland. Hamburg. Later Berlyn. Ons bevind ons in teaters terwyl die mag van die Nazi’s aan die toeneem is in die verre jare twintig, dertig van die vorige eeu.
Die regisseurs, teaterbestuurders, dramaturge, die akteurs – almal leef onder spanning. Ja, hulle skuil agter ironiese stellings, spitsvodighede, agter erotiese vermaak wat ook homo- en biseksualiteit en masochisme insluit. Hulle flankeer.
Maar altyd ook die vrese vir politieke verraad, vir sensuur. Hulle bots onderling. Maar steeds is daar die besinning oor en pogings om relevante teater te lewer. Hoe moet hulle die sosiale werklikhede reflekteer? Met kabaret? ‘n Opstuur van die staatsdiens, van ‘n Hitler? Wat is die stand van die Duitse volk se kultuur en moraliteit?
‘n Ouer intellektueel en skrywer soos Theophile Sarder (‘n uitstekende Guy de Lancey) kom los uit sy somber afgetrokkenheid en roep die agteruitgang onder die jeug op, waarsku, voorspel die ondergang onder die Fasciste.
In ‘n helder toneel roep hy en Thomas Brückner (Nicholas Ellenbogen in ‘n wonderlike kameerol) die slottoneel uit Tsjechow se Die Kersieboord op waar die ou dienskneg Firs besef dat sy lewe verby is … “net asof (hy) dit nooit geleef het nie”. Vir hulle is die ou landsbestel, hulle lewe daarin dan verby.
Ons sien hoe die Nazi-bewindhebbers se ideologieë en geweld hierdie teaterlui bedreig. Op ‘n treinbrug verskyn hierdie spelers byvoorbeeld, te midde van ‘n verskeidendheid persoonlike trauma’s. Hulle neem besluite: om te vlug, te emigreer, steeds te protesteer of in die fel lig van ‘n donderende trein selfmoord te pleeg.
En in hulle midde is daar Hendrik Höfgen (Adrian Collins). Besonder energiek stel Collins hierdie gedrewe teaterman voor. Hoe hy sy kollegas oorheers, hoe hy onsuksesvol met die liefde en menslike verhoudings is. Hy’s onvoorspelbaar, freneties ingestel op sy opgang as akteur, om roem te behaal. Daarom stel hy die maghebbers tevrede. Ten koste van sy kollegas.
Terwyl ‘n mens kyk na hierdie opvoering word jy oorval deur ‘n gevoel van bedreiging. Dis of jy by duisternis inkyk. Sal dit nie nog hier by ons ook gebeur nie? Erger nog, gebeur dit nie reeds nie?
Dat ons geestesgoedere vernietig gaan word; dat jou kultuur en daarmee jou lewe gaan ophou? Wanneer die lys van gestorwenes aan die einde gelees word, herken jy soveel groot geeste in ‘n verskeidenheid beroepe en lewensfere. Gaan daar oor ‘n dekade, dalk minder, ook hier so ‘n klaaglied kan opklink? As dit ooit sal opklink.
The Mechanicals lewer as ‘n ensemble van negentien spelers voortreflike en belangrike werk. Heerlik die oortuigende, gepaste mate van teatraliteit in die spel, met duidelike spraak. Byvoorbeeld by Tinarie van Wyk Loots en Deborah Vierya. Ek het gewonder waarom Duitse stemklanke net gehoor word by die goed omlynde karikature in die voorstellings. Moontlik kontrasteer daardie tonele dan daarmee des te meer met die gewone dialoog, wil dit sê dat die akteurs opsetlik hulle uitspraak oordrewe sou maak vir so ‘n soort aanbieding.
Hier kom dit. Ek was nie te gelukkig met Mbulelo Grootboom wanneer hy Hans Josthinkel speel nie. Hy oefen die nodige gesag uit, ‘n mens onthou hom as uitstaande studentespeler, maar hier kan ek dikwels nie verstaan wat hy sê nie. ‘n Mens is ook gekondisioneer deur die jare om kleurblind te kyk in die teater, maar hier sien jy tog maar ‘n Nazi wat hoegenaamd nie Ariese trekke vertoon nie, ‘n bietjie wit grimering ten spyt.
Dit word dan juis problematieser as dit blyk dat Höfgen juis sy verhouding met Juliette (Roxanne Blaise), ‘n danseres van gemengde bloed, verbreek omdat dit ‘n taboe vir die maghebbers is. (Klaus Mann het in sy roman besluit om Höfgen nie die erger geneigdheid van homoseksualiteit te gee nie.) Blaise lewer goeie beheerste spel, met genoeg emosioneelheid.
‘n Mens moet lof gee aan die goed versorgde kostumering, die byklanke… Daardie trein wat klink of dit oor jou gaan jaag. Die beligting. Die straalligte wat ons, die gehoor, ook vaskeer. Maar soms kan ‘n mens met moeite uitmaak wie op die “brug van smarte” staan. Die indrukwekkende brugkonstruksie word ook so geplaas dat daar probleme met siglyne is vir die gehoor wat links sit. ‘n Teaterkritikus het nĂ¡ pouse daadkragtig regs geskuif om te kan sien wat onder die brug op die verhooggedeelte aangaan.
As jy ‘n kenner van die Duitse geskiedenis en/of teater is, sal jy soveel hieruit kan haal. As jy van afgeronde, sinvolle teater onder ‘n uiters ervare regisseur hou, en van ons voorste akteurs in aksie wil sien – bespreek dan dadelik.