Krismis van Map Jacobs. Kunstekaap-teater. Deborah Steinmair Dit is Kersfees: ’n tyd van die jaar wat veronderstel is om mense nader aan mekaar te bring, maar tradisioneel ’n tyd wanneer ou griewe in gesinne en gemeenskappe soos bose swere oopbars. Map Jacobs (Christo Davids) het sy straf uitgedien vir ’n voorval van bendegeweld en nou is hy op pad huis toe, maar as ’n ander mens – agter die tralies het Map vir Jesus gevind aan die voete van Apostel George. Tuis het baie verander in sy afwesigheid: sy meisie, Blanche, het in die woorde van haar stiefma ’n jintoe geword en haar koppelaar is haar eie pa, Mr Carvenellis, “wat net die beste vir sy gesin wil hê”. Dis die Kaapse Vlakte in die sewentigerjare en die wonde van gedwonge verskuiwings is nog rou. Dis ’n hutspot waaruit almal graag wil ontsnap. Die teks is emosioneel gelaai, maar die emosie reis nie verder as die voetligte nie. Adam Small (dramaturg) en David Kramer (regisseur) is ikone. Tog tref teks sowel as aanbieding ’n vals akkoord. Die mense is eenvoudig te oulik, hulle is patrone: tot hul pyn is oulik. Dit voel soos ’n tjoklitboks Cape Flats met ’n sepiester wat in die kollig wroeg. Teen indrukwekkende, gestroopte stelle – mure vol graffiti, asbes en diamantdraad – word die karakters eensaam en dramaties verdwerg uitgestal, al hul skakerings deur die atmosferiese blou lig gestreel, tafereel op tafereel. Borrelende musiek fasiliteer die stelveranderings en ’n mens sou nie verbaas wees as ’n klops agter die coulisse uitspring nie. Die programnota meld dat dit toeganklik gemaak is vir skoolkinders (dit is ’n voorgeskrewe werk), maar myns insiens is dit oorvereenvoudig, miskien reeds op die (oorspronklike) teksvlak. Stereotipes seëvier: die diepsinnige bendeleier, die hoer, die gay, die lekeprediker. Dit ruik na skoolkonsert. Dit gaan oor ongeregtigheid en vergifnis, maar wat uitbly, is daardie universeel-menslike noot wat die kyker aan die nekhare beetkry en laat erváár. Vinnige, vlot oorgange waarborg nie boeiendheid nie. Map Jacobs se stryd is lank en onsamehangend en hou die gehoor op ’n afstand; dit bly ’n storie, toneelspel – dikwels uitstekende toneelspel, maar tog. Sommige mense het Small as geen vriend van die struggle beskou nie, juis omdat gevoel is dat hy stereotipes propageer en bruin mense in ’n boksie druk. En miskien is Kramer, met onkreukbare musiekteaterwerke agter sy naam, hier uit sy element.
|